Die vier mans het vinnig die dorpie te perd verlaat, op pad na wat nou bekend staan as die Switserse Alpe. Nadat hy die meisie by haar familie afgelaai het, het Syn vir die ouma 'n brief en 'n sak goue munte gegee, terwyl hy 'n paar woorde met haar gewissel het. Die ouer vrou het geglimlag en Syn styf omhels, voordat sy haar kleindogter in haar arms geneem het.
Alhoewel Syn nooit iets gesê het nie, het hulle geweet dat hy die een is wat verantwoordelik was vir die dood van die meisie se ouers. Tot vandag toe het dit Michael laat sidder as hy te lank daaraan dink. Syn se morele kode het geweier om enige kind sulke ellende te laat ly en, as hy enigiets daaraan kon doen … sou hy. Syn het niks omgegee wie die ouer was of wat hulle verteenwoordig het nie. Hy het geglo dat ouers wat mishandel, niks minder verdien as wat hulle uiteindelik aan hul kinders sou doen nie.
Toe Michael gevra het oor Syn se genesende vermoë op die kind, het Syn hom 'n geduldige glimlag gegee.
“Die krag is in jou onsterflike siel. In vergelyking met onsterflikheid ... is jy steeds 'n kind, so die meeste van jou krag is dormant. Soos die tyd verbygaan, sal daardie krag groei. Oor watter krag jy het ... net jou siel kan kies. As genesing die krag is wat jou siel aanroep, dan moet jy dit net genoeg wil hê.”
Soos hy terugkyk na die beseerde poema, verstaan hy. Om Alicia so te sien huil, was meer as genoeg motivering om dit erg genoeg te wil hê. Michael staan stadig op en beweeg nader aan Micah. Hy kan die infeksie ruik wat die poema se liggaam begin beetkry. As iets met die poema gebeur, weet hy Alicia sal huil en hy wil nie hê Alicia moet huil nie.
Michael lê sy hand op Micah se bors en onthou die sensasies wat hy gevoel het toe hy en Dean aan Kane geraak het. Gefokus op sy behoefte om Alicia te sien glimlag, voel hy dat daardie behoefte deur hom vloei, na die een wat hy weet haar gelukkig kan maak. Micah begin saggies gloei en Michael wag om te sien of hy Micah se siel kan sien, soos hy Kane s'n gesien het. Na 'n oomblik besef hy dat dit Dean se krag was ... nie syne nie.
As iemand saam met hom in die kamer was, sou hulle die verskille sien plaasvind. Michael se oë het 'n diep ametis begin gloei en sy eie siel het stadig sigbaar geword, bo-op sy fisiese vorm.
Michael kon 'n deel van homself diep binne-in die poema se liggaam voel ... deur sy bloed vloei. Hy slaak 'n sug van verligting toe die reuk van infeksie stadig uit die kamer verdwyn. Hy kan nie onder al die verbande kyk nie, maar sien hoe die kneusplekke en snye op Micah se gesig genees en dan heeltemal verdwyn.
Michael trek sy hand weg en gee 'n onvaste tree terug. Met 'n hand na sy oë om die duiseligheid te verlig, is hy verbaas om trane op sy wimpers en wang te voel. Hy staan vir 'n oomblik stil en onthou dat hy ook gehuil het toe Dean sy hand gegryp en dit oor Kane se sterwende liggaam geplaas het.
Is dit wat Syn bedoel het om dit erg genoeg te wil hê? Moet sy hart en verstand presies op dieselfde plek wees sodat dit kan gebeur?
Michael kyk af na sy hande en sug. Hy wens Syn is hier om sy vrae te beantwoord. Syn is nou wakker, maar so lank as wat hy kan onthou, het Syn nooit op een plek gebly nie ... altyd net deurgereis. Hy het Syn eenkeer gevra waarna hy soek, maar Syn het net met daardie ver kyk in sy oë geglimlag en geantwoord, "Sommige geheime is bedoel om bewaar te word."
Miskien sal hy gou genoeg uitvind ... vir nou sal hy huis toe gaan en rus. Die genesing van die poema het hom baie swaar geraak en hy moet sy kragte herwin. Terwyl hy na Micah terugkyk, besluit Michael hy het nog een ding om te doen om sy spore te bedek, en die broer en suster te herenig.
Hy plaas 'n hand op Micah se wang en fluister sy naam, wat die poema dwing om genoeg wakker te word om na sy woorde te luister. Toe Micah se wimpers fladder, gee Michael vir hom die besonderhede wat Alicia se verblyfplek geheim sou hou, totdat hy haar kan kom haal.
*****
Trevor parkeer die motor voor Maan Dans. Om te sien dat Envy beseer is, het tien jaar van sy lewe af geneem … of ten minste is dit hoe dit voel. Haar skietwond het net die feit bevestig dat hy die regte ding gedoen het, deur haar so lank daarvan te weerhou om die waarheid oor die paranormale wêreld en sy betrokkenheid daarin te weet. Deur sy geheime te bewaar, het hy haar uit die gevaarsone gehou.
"Ons is hier," brom hy, sonder om na hulle te kyk. Trevor klim agter die stuur uit en loop om die motor om die deur vir Envy oop te maak, maar Devon hou reeds die deur vir haar oop.
Devon gee vir Trevor ‘n vuil kyk, terwyl hy hulle na binne volg, maar sê niks. Devon haat die feit dat hy Trevor skuld omdat hy Envy gered het ... maar het dit meer gehaat dat dit Trevor is aan wie hy die guns verskuldig is.
"Jy hoef nie saam met ons in te kom nie," bied Envy aan en probeer die gespanne atmosfeer rondom die twee mans breek. Sy het selfs vir Trevor 'n klein glimlag en 'n knik gegee om hom te laat weet dat sy nie net gemeen is nie, maar sy hulp opreg waardeer.
Trevor se oë word sag toe hy na Envy kyk. “Ek sal beter voel as ek weet jy word versorg.”
Envy krimp innerlik ineen … dis heeltemal die verkeerde ding om te sê.
"Sê jy dat ek nie vir Envy kan sorg nie?" Devon staan stil toe hulle die trappe bereik wat na die slaapkamers lei.
"Nie in soveel woorde nie," sê Trevor terwyl hy Envy die trappe opvolg.
Devon se oë rek groot oop en hy hardloop agter Trevor aan, om hom hard teen die muur te druk. “Verduidelik dit dan vir my Care Bear.”
Trevor trek sy skouers teen die muur op, "Verseker Thunder Cat!"
“Vlieg hel toe!” grom Devon hard.
"Ek voel 'n terugflits na Saterdagoggend se manewales," prewel Envy en vryf oor haar voorkop. “Hoekom hou julle twee nie eerder op om testosteroon oral te mors, en speel vir ‘n slag saam nie? Ek het ’n massiewe hoofpyn, my arm is donners seer, en die laaste ding wat ek nodig het, is dat julle twee begin baklei oor wie die beter man is.” Sy kyk na Trevor, "Bly stil of gaan huis toe, ek gee nie nou om watter een nie."
Devon glimlag, totdat Envy haar blik op hom keer. "En jy ... Ek het die reg om jou te weier, kietiekat. Hou so aan en jy sal in ‘n stegie sit en miaau vir aandag.”
Tabatha het al 'n rukkie gewag, toe sy hoor hoe Devon vir Trevor sê om hel toe te vlieg. Sy maak die deur net betyds oop, om te sien hoe Envy hulle albei ‘n ding of twee vertel en kan nie anders as om te giggel nie. Sy is darem nie meer alleen nie.
“Gedra die seuns hulle weer nie?” vra Tabatha.
“Jy het geen idee nie,” brom Envy, terwyl sy by Warren se kantoor instap, met die nou stil Trevor en Devon kort op haar hakke.
Envy haal die baadjie van haar skouers af en Tabatha se oë rek groot toe sy die bloeddeurdrenkte verband om Envy se arm sien. Sy het begin om 'n terugflits te kry van haar en Envy wat deur Raven en sy bende bloedsuiers gyselaar gehou word, maar het die visioen teruggedruk in haar geestelike sluitkas.
"Sal een van julle ouens die noodhulpkissie kry?" vra Tabatha, terwyl sy na Envy kyk om seker te maak haar skouer is die enigste besering.
"Ek sal dit kry," antwoord Devon en stap by Warren se badkamer in.
"Wat het gebeur?" vra Tabatha, toe sy die verband oopdraai en sien waar 'n koeël haar vriendin se arm geskraap het.
"Ek is op geskiet, op gegrom, amper verskeur en het skaars 'n ontploffing ontsnap," sê Envy met 'n glimlag, maar die glimlag verdwyn, toe sy die uitdrukking op haar vriendin se gesig gewaar. "Ek is oukei, ek belowe," voeg sy vinnig by.
Tabatha ignoreer Envy en kyk na Devon toe hy terugkom in die kamer. “Waar de hel was jy toe Envy geskiet is?” Sy kan dit nie help nie. "Dis my beste vriendin en jy is veronderstel om haar te beskerm!"
Trevor lag innerlik, bly iemand behalwe hy vreet ook Devon vir ‘n verandering uit.
“Ek en Warren het baklei vir ons lewens," sê Devon ter verdediging. “Ek kon nie by haar uitkom nie, maar Winnie the Pooh hier het haar uitgekry.”
"Dit was nadat Hello Kitty haar van hom laat wegglip het," Trevor probeer om nie te grynslag by die gedagte dat Devon steeds dink hy is 'n weerbeer nie … as hy maar net die waarheid geweet het oor wat hy werklik is. Die drang om te grynslag gaan weg toe sy blik na Envy terugkeer. As Devon die waarheid weet, dan sal Envy weet en hy word moeg om deur haar in sy leuens gevang te word.
Tabatha en Envy gee mekaar 'n gelate kyk, terwyl Envy die woord 'help' vorm met die wete dat Tabby sal verstaan.
"Haai Trevor, kan jy my huis toe vat?" vra Tabatha om Trevor uit die vertrek te probeer kry, voor Devon sy kop afbyt ... of Envy werklik op hulle twee afgaan.
Trevor sug en druk sy hande in sy sakke. "Natuurlik, laat ek die kar aan die gang kry."
Toe Trevor weg is, gee Envy Tabby 'n kyk van verligting. "Dankie!"
Tabatha glimlag, "Moenie vir my dankie sê nie, want nou skuld julle albei my."
"Ek sal jou alles gee wat ek besit!" roep Devon met 'n glimlag uit.
"Sluit dit Envy in?" vra Tabatha, haar oë glinster.
"Nie 'n kans nie," antwoord Devon en knipoog.
Tabatha maak 'n teleurgestelde gesig, "Wel, dit haal net die pret uit alles uit."
Envy giggel toe Tabatha uit die kantoor storm en die deur spottend toeklap.