Hoofstuk 1-1
Hoofstuk 1
Micah rus in die bed, toegedraai in soveel verbande dat hy soos 'n mummie lyk. Hy kan nie anders as om saggies te glimlag terwyl mev. Tully soos 'n moederhen om hom kloek en kort-kort haar kop skud nie. Hy kla ook nie oor die hoeveelheid pynstiller wat sy in sy arm gespuit het nie. Hy kan homself in die spieël oorkant die kamer sien en begin 'n wenkbrou lig, maar besluit daarteen toe dit dadelik pyn.
Hulle het hom reeds verseker Anthony is dood, maar hy kan nie help om te wens die alfa-weerwolf leef nog, sodat hy die bliksem kan martel op dieselfde manier as wat hy gemartel is nie. Die storie wat hulle hom vertel het, het na 'n vinnige dood geklink. Hy sou dit nie so vinnig gemaak het nie.
"Ek dink julle vervormers gaan eendag my dood veroorsaak," sug mev. Tully sag. Die vervormers ... beide jaguars en poemas, het 'n sagte plekkie in haar hart. Sy het met elkeen se geboorte gehelp en was baie na aan hul ma’s. "Kyk net hoe lyk jy nou."
Micah pruil na die plafon en voel duiselig, toe hy na die dakwaaier kyk wat aanhou om en om draai. “Dis nie my skuld dat ek ontvoer en gemartel is nie.”
Mev. Tully tik hom saggies op die voorkop met haar wysvinger. “Ek stem nie saam nie, jong Skywalker. As die stories wat ek gehoor het waar is, het jy opgestaan teen daardie aaklige weerwolf en dis hoekom jy ontvoer is.”
"So, jy sê ek het dit aan myself gedoen?" vra Micah en ignoreer die grinnike van die ander mense in die kamer.
"Moenie jou ouer garde in die rede val nie," mev. Tully kyk streng na hom. “Ek was nie klaar nie. Soos ek gesê het … jy het opgestaan teen daardie basterbrak en ek wil net sê dis iets wat lankal moes gebeur.”
Micah kyk stip na Quinn met 'n 'Ek het jou so gesê'-grynslag. Hy is nie gereed om sy broer te vergewe nie. Hy het Quinn oor Anthony gewaarsku en is aangesê om dit uit te los. Hy hoop sy grootboet voel tevrede, want nou kan hy nie eers opstaan nie.
"Stop dit!" grom mev. Tully en klap hom bo-op sy kop.
Dit laat sy aanhoudende hoofpyn erger klop en hy druk sy oê toe. "Haai, ek het seer daar," kla Micah.
"Jy sal dit erger maak as jy aanhou wedywer met jou broer," antwoord mev. Tully en gee dieselfde waarskuwende kyk vir Quinn. “Ek moet my kleindogter bel en haar laat weet waar ek is. Die arme ding sal bekommerd wees as ek nie by die huis is om die telefoon te antwoord nie.”
Mev. Tully wag nie dat iemand vir haar wys waar die telefoon is nie. Dis nie die eerste keer dat sy in die Wilder-woning is nie. Sy mis ‘n tree, toe sy Michael opmerk wat stil in 'n stoel in die hoek van die kamer sit. Dis nie normaal vir die bekoorlike vampier om so donker en broeiend te wees nie. Toe die deur agter haar toegaan, draai alle oë terug na Micah.
"Dis goed om jou weer terug by die huis te sien, waar jy hoort," sê Steven met 'n sagte glimlag, terwyl hy die feit probeer wegsteek dat hy bekommerd is. Al is Micah tuis, het iets vir hom gesê hy is nie buite gevaar nie. Micah is bleek en sy oë is 'n bietjie te blink na sy sin.
Micah glimlag terug, maar begin lomerig raak, "Dis net goed om uit daardie hel uit te wees."
"Jy was baie roekeloos hierdie keer," sê Quinn, vanwaar hy met sy arms oor sy bors gekruis by die venster staan. “Jy kon in daardie kelder doodgegaan het, as ons nie die boodskap gesien het wat jy vir Alicia gestuur het nie.”
Micah soek sy kleinsus in die vertrek en frons. “Gepraat van Alicia, waar is sy? Ek het gedink sy sou hier wees.”
"Sy bly by 'n vriendin se huis, totdat dit alles oorwaai," antwoord Kat. Sy kyk vlugtig na Quinn en wonder hoe lank hy gaan wag totdat hy hul suster bel en vir haar sê om huis toe te kom.
"Hoekom het sy nie saam met ons teruggekom van Anthony af nie?" vra Micah. “Ek het gedink sy sal …” hy kyk weer na Quinn, en plaas die skuld vir Alicia se afwesigheid op hom, bloot omdat hy wil.
Nick skud sy kop, maar krimp innerlik ineen. Hy probeer om nie na Michael te kyk nie, met die wete dat die vampier almal se geheue uitgevee het, behalwe syne en Micah s'n. “Man, jy moes een te veel houe teen die kop gekry het … Alicia was nie by Anthony nie.”
“Maar sy was daar,” hou Micah vol. “Ek het haar met my eie oë gesien.” Hy gluur Nick aan, maar die man trek net sy skouers op en skud sy kop.
Hy kyk van die een gesig na die ander en besef dat nie een van hulle sal bevestig dat Alicia by die herehuis was nie. Hy onthou haar in die kelder … terwyl sy sy hand vasgehou het. Sy het gehuil en dit sal aan hom vreet totdat hy haar weer sien, en seker maak dat sy oukei is. Hy weet nie wat maak seerder nie … om haar te sien huil of om amper doodgemaak te word. Hy kyk nog 'n keer rond en merk op dat die man wat saam met Alicia was, ook nie teenwoordig is nie.
Hy druk terug teen die kussings en beplan stilweg om uit te vind by watter vriendin Alicia bly. Hy sal haar soek en die waarheid by haar kry.
"Jy het seker gehallusineer," sê Jewel sag.
Micah kyk oor na die mooi blondekop en frons. "Wie is jy?"
"Dit is Jewel Scott Wilder," sê Steven en vou sy goeie arm om haar skouers. Mev. Tully het reeds sy koeëlwonde versorg en vir eers sy ander arm in 'n slinger gesit. “Sy is my maat.”
"Anthony se Jewel Scott?" Nou is Micah nog meer deurmekaar.
"Net binne Anthony se demente verstand," antwoord Steven, maar kan homself nie keer om Jewel 'n bietjie stywer teen hom te druk nie.
Micah knip sy oë en kyk na Quinn om bevestiging te vra, toe hy sien dat Kat teen sy ouer broer vasgedruk is. Met 'n sug, wonder hy hoeveel dwelms mev. Tully hom eintlik ingespuit het, want óf hy is besig om kop te verloor, óf al die ander is. Hy kyk op na die enigste ander persoon in die kamer wat hy ken, wat enige gesonde verstand het, Warren.
“Het ek 'n Rip Van Winkel getrek of iets? Ek bedoel, toe ek weg is ... was Steven nog enkellopend en Quinn het omtrent net soveel romantiese neigings gehad as Dean.”
Warren glimlag, "Daar het nogal baie gebeur vandat jy weg is."
"Goed, my telefoonoproep is gemaak," kondig mev. Tully aan toe sy terug in die kamer instap. Sy het eintlik nie haar kleindogter gebel nie. Sy het dit net gesê om hulle 'n oomblik alleen saam met Micah te los, voordat sy hulle uitjaag. "Nou ... almal uit en laat hierdie katjie toe om ‘n uiltjie te knip."
Micah grom vir die ouer vrou. "Ek is nie 'n katjie nie."
"Liefste, my jongste kat kan jou in 'n geveg wen, met die toestand waarin jy nou is en sy is 'n bangbroek, hardloop vir haar eie skaduwee weg," lig mev. Tully hom in. Terwyl sy gesels, haal sy 'n naald uit die vreemde boks wat sy saamgebring het.
“Ek dink nie ek het nog dwelms nodig nie,” sug Micah. Hy het baie om in te haal. Die blote feit dat hy Alicia nog nie gesien het nie, maak hom erger seer as die gebreekte bene.
"En dis hoekom jy nie die dokter is nie." Mev. Tully is bly hy het nog sy sin vir humor ... sodra hy begin genees, gaan hy dit nodig hê.
Micah grom sag toe die naald in sy arm steek en kyk weg. Hy het dit gehaat om bevele van enigiemand te ontvang en wat hy nou moet doen, is om sy suster op te spoor. Almal het uit die kamer geloop toe sy die leë spuit uit sy arm trek.
Mev. Tully kyk hulle agterna en draai terug na Micah wat reeds slaap. Sy familie is bly hy is tuis, maar die waarheid is … sy is bekommerd oor die poema. Sy beserings is so erg dat sy verbaas is dat hy nog lewe.
Beide sy kniekoppe is deur koeëls vergruis, en sy ribbes is gebreek deur ‘n aanhoudende geslaan oor ‘n lang tydperk. Dit het ook gelyk of sy rug deur een of ander sweep geslaan is. Hy is gedehidreer, ondervoed, en hy het 'n infeksie wat deur sy bloedstroom versprei. Sy sou hom penisillien gegee het as hy 'n mens was, maar ongelukkig ... het menslike antibiotika geen effek op die paranormale nie.
Selfs al kan die weerdiere baie vinnig genees ... het dit nie beteken dat hulle nie permanent beseer kon word nie ... of dodelik gewond kan wees nie. Sy sal hom gelukkig ag as hy die infeksie oorleef.
Sy kyk uit die hoek van haar oog na Michael, wat nie weg is nie, en baie stil in sy stoel sit. Mev. Tully besluit om hom met rus te laat. As hy wil bly dan sal sy hom los. Hy het gereeld na haar toe gekom, maar dit was meestal om vir haar die gewondes te bring, nooit vir sy eie beserings nie.
Met 'n sug, pak mev. Tully haar toerusting weg en staan op. Met 'n effense knik in Michael se rigting verlaat sy die kamer.
Michael weet dis tyd om te gaan ... hy het net gewag dat sy woede afkoel. Alicia was 'n handvol, maar Damon moes haar nooit in die middel van 'n skietgeveg soos daardie gebring het nie. Hy kon steeds die besitlike uitdrukking op Damon se gesig sien toe hy sy arms om haar vou, en wonder of die geskiedenis herhaal word.
Sy blik keer terug na wat oor is van Micah. Die beeld van Alicia wat huil terwyl sy haar broer se hand vashou, kom terug om by hom te spook. Nog 'n beeld flits deur sy gedagtes ... die beeld van Dean wat sy hand gryp en dit op Kane lê om te keer dat hy sterf. Tussen hom en Dean … het Kane se beserings reg voor hulle genees.
Michael het nog nooit daaraan gedink nie, maar hy het al Syn sulke dinge in die verlede sien doen. Daar is veral een keer wat in Michael se gedagtes uitstaan ... so lank gelede dat hy dit amper vergeet het.
Dit was tydens een van hul vele reise, waar hulle op 'n beseerde kind afgekom het. Hy glimlag met die herinnering aan Damon en Kane se reaksies oor die dogtertjie. Een van haar bene was gebreek en sy het verskeie kneusplekke gehad, wat in verskillende stadiums van genesing was.
Die kind het volgehou sy het net geval, maar die mans het geweet daar was niks in die omtrek wat daardie beserings kon veroorsaak het nie. Toe Damon voor die dogtertjie neerkniel en haar begin dwing om hulle die waarheid te vertel, het Syn hom weggestoot en gesê, "Jy doen dit nie aan 'n onskuldige kind nie."
Hulle het aangebied om haar te help om terug te gaan huis toe, maar het dadelik die vrees in die kind geruik. Dit was nie vrees vir hulle nie, dit was vrees om huis toe te gaan, wat die dogtertjie se hart vinniger laat klop het. Alhoewel die kind niks gesê het nie, het Michael geweet dat haar ouers verantwoordelik was vir al haar beserings … nie net die gebreekte been nie.
Syn het niks vir die kind daaroor gesê nie en haar trane afgedroog. In plaas daarvan het hy oor haar broers en susters gevra en sy het geantwoord dat sy nie een het nie. Sy het begin praat oor haar ouma wat in die berge gewoon het en haar oë het geblink van 'n kleinkind se liefde.
Terwyl sy gepraat het, het Syn sy hand direk oor die meisie se seer been geplaas. Toe sy haar storie klaargemaak het, is nie net haar been genees nie, maar al haar kneusplekke het ook verdwyn. Dit was toe dat Syn vir Michael regtig geskok het. Terwyl Kane die meisie in sy arms opgetel en met haar begin speel het, het Syn nader aan hom en Damon gestap.
Terwyl hy na Damon gekyk het, het hy gesê, "Jy mag nooit met 'n kind se verstand peuter nie ... behalwe hierdie keer. Sy hoef nie die mishandeling te onthou nie, maar sy sal wel hul dood onthou.” Sy oë het so koud geword toe hy bygevoeg het, "Deur vuur." Daarmee het Syn omgedraai en met die paadjie afgestap wat na die meisie se huis gelei het.
Kane het dit nie geheim gehou dat hy die meisie wou eien en haar grootmaak nie ... hy het nog altyd 'n sagte plekkie vir kinders gehad. Hulle het almal sagte plekke gehad, maar Kane s'n was regtig erg. Hy sou 'n hele speelgoedwinkel vir hulle koop as hy wou ... en hy het ... 'n paar keer. Syn het egter daarop aangedring om die regte ding te doen en die kind na haar geliefde ouma te neem.
Toe die son die volgende oggend opkom, het die woord vinnig in die dorpie versprei, van 'n huis wat tot op die grond afgebrand het. Die oorskot van 'n man en vrou is gevind, maar hul kind, 'n klein dogtertjie, word vermis.