Hoofstuk 2
"Sit my neer, jou bloedsuiende bliksem!" skree Alicia terwyl sy na Damon se rug klou van waar hy haar oor sy skouer gegooi het. Die oomblik toe sy besef hulle is nie op pad Nag Lig toe nie, wou sy hê hy moet ophou … dis duidelik dat om te wil hê en te kry, twee verskillende dinge is. “Ek wil vir Micah gaan sien!”
“Michael het vir my gesê om jou hierheen terug te bring en dis waar jy sal bly,” beveel Damon, terwyl hy kalm by Alicia se kamer instap. Hy gooi haar op die bed neer en trek sy asem in, toe haar naels lang skrape op sy rug los. Grommend, voeg hy by, "Ek dink nie jou kêrel sal te teleurgesteld wees as jy 'n bietjie laat by sy bed ... se kant is nie."
Alicia huf en probeer om van die bed af te klim, maar Damon leun dadelik oor haar, met 'n palm stewig op elke skouer geplant.
Damon kyk na haar af en probeer weer haar onder sy spel te plaas, “Verdomp, ek het gesê bly!”
"Ek is nie 'n hond nie, ek is 'n kat, jou ..." Alicia se gedagtes word vir 'n sekonde leeg terwyl sy na hom staar, en kyk hoe sy hare om daardie perfekte gesig hang. Sy voel hoe iets in die put van haar maag wakker word. Sy laat sak haar blik na sy lippe en die enigste ding waaraan sy kan dink, gebruik sy om haar gedagtes daarvan af te kry om hom te soen … aggressie.
"Jy is nie my baas nie!" Alicia slaan hom in die bors, maar is spyt toe Damon sy oë van pyn toeknyp en nader aan haar leun.
"Het niemand jou ooit pakslae gegee toe jy ‘n kind was nie?" grom Damon en breek in 'n sweet uit. Hy rol van haar af weg, om op sy rug langs haar te gaan lê.
"Jy wens." Alicia frons en wonder hoe dit moontlik is dat hy haar sopas deur die dorp gedra het soos 'n Neanderdalman, en nou lyk of hy bewusteloos gaan word, omdat sy hom geslaan het. “Is jy oukei?” vra sy agterdogtig, en wil nie skuldig voel vir haar terugbaklei nie.
Damon maak sy oë oop, net om van aangesig tot aangesig met 'n dom teddiebeer te kom. Sy ametis-oë vernou toe hy die speelding se kraag lees ... 'Micah' ... natuurlik.
"Ek voel wonderlik ... en jy?" antwoord hy sarkasties, terwyl hy homself na 'n sittende posisie stoot en wonder hoekom hy die moeite gedoen het om by mense betrokke te raak ... veral vroumense. Hulle is niks anders as moeilikheid nie. Toe hy opstaan, beweeg hy deur toe en hoop dat hy nie flou gaan word nie. “As jy probeer om hierdie huis te verlaat voordat Michael terugkom, gaan ek daardie teddiebeer in jou keelgat afdruk.”
Alicia gluur na die deur totdat hy weg is en lig haar wenkbrou vir haar onskuldige teddiebeer, "Wel, ek weet wat ek gedoen het ... maar wat het jy gedoen om hom kwaad te maak?"
Sy rol haar oë en strek om die bedlampie aan te skakel. Damon was so haastig om haar op die bed te gooi dat hulle nie eers die lig aangesit het nie. Sy is op die punt om die teddie te gryp, maar verstar toe iets op die bed haar aandag trek. Net daar waar Damon gelê het, is 'n vars rooi vlek. Sy bring haar hand nader en wil daaraan raak, maar trek terug.
Alicia staan van die bed af op, stap na die balkon toe en glip oor na die ander stel glasdeure, wat na Damon se slaapkamer lei. Wat sy sien, laat haar hart in haar skoene sak.
Damon slaan die slaapkamerdeur toe, ruk sy swart hemp af en gooi dit deur die vertrek. Verskeie koeëls wat los in die hemp gelê het, het die vloer en mure getref. Sy liggaam het hulle uit sy vlees gestoot, in 'n poging om te genees. Hy haal diep asem en kyk in pynlike afgryse na die bloederige gate. Dis die koeëls wat steeds uitgedruk word, wat veroorsaak dat die wonde nog nie toegemaak het nie.
Toe hy 'n koeël halfpad uit sy bors sien steek, trek hy dit die res van die pad uit. Hy gryp die bedpaal so styf met sy ander hand vas dat die hout begin splinter en kraak. As dit nie is vir die weerwolfbloed wat hy vroeër gedrink het nie, sou hy nou op sy knieë gelê en bloedige moord geskree het. Hy sou waarskynlik dit nie eers uit daardie herehuis gemaak het nie.
Die bloed van 'n paranormale wese het meer krag as menslike bloed, maar dis duidelik as hy vinniger wil genees, dan sal hy meer bloed moet vind. Niemand het hom nog ooit daarvan beskuldig dat hy geduldig is nie.
Met 'n knor laat val Damon die koeël wat hy sopas uitgetrek het op die vloer, en gaan na die kas om nog 'n hemp te kry. Al wat hy daarin vind, is 'n paar truie ... hy haal die swart een van ‘n hanger af en trek dit aan, voordat hy na die balkondeure beweeg.
Alicia druk haar hand oor haar mond, en keer haarself om hardop te huil toe sy sien hoeveel skade aan Damon se bors aangerig is. Van die koeëlgate bloei nog en van hulle is eintlik besig om die koeëls uit sy vel te druk. Geen wonder hy het ineengekrimp toe sy hom geslaan het nie. Sy voel 'n flits van pyn in haar bors. Hoe kon sy so wreed wees?
Sy begin om die deur oop te maak, maar stop toe Damon omdraai en 'n trui uit die kas gryp en dit aantrek. Sy wil weer huil, toe sy sy bebloede rug sien, wat in ‘n erger toestand as sy bors is. Hoeveel keer het sy hom op die rug geslaan voordat hulle by haar kamer uitgekom het? Alicia voel hoe haar knieë verswak by die gedagte.
Toe hy na die balkondeure begin stap, beweeg sy vinnig opsy, draai in die rondte en leun terug teen die baksteenmuur tussen die twee kamers. Sy lê haar hand op haar eie onbeseerde bors, hou haar asem op en hoop dat hy nie buitentoe sal kom en haar betrap dat sy op hom spioeneer nie.
Haar paniek maak vinnig plek vir seer … toe woede en verwarring. Damon het vir haar by die herehuis gelieg ... al daardie bloed was syne. Hoekom sou hy dit doen? Hoekom sal hy haar beskerm en dan nie vir haar sê dat hy seergekry het nie? Hy kon homself doodgemaak het ... en waarvoor? Om haar te red?
Alicia se oë rek toe die balkondeure skielik oopvlieg en Damon op die reling spring en na die straat daaronder kyk. Hy balanseer op die rand, maar voor hy kan afspring, voel hy haar teenwoordigheid agter hom. Hy kan al daardie emosies in haar aura voel en sug … hy is moeg en seer en is nie meer lus om vanaand met haar te baklei nie.
“Michael het hul herinnering van jou daar vanaand uitgevee. As jy na Micah terughardloop voordat hulle jou bel ... sal alles wat hy gedoen het om jou te help, vir niks wees nie. As jy nie hier vir my wil bly nie … doen dit dan ten minste vir Michael.” Met dit gesê, spring Damon van die balkon af.
Alicia snak en hardloop na die reling, terwyl sy afkyk hoe hy blindelings tuimel. Haar oë word groot en sy gryp die reling vas, toe sy besef dat Damon se blinde tuimel nie so blind is as wat sy gedink het nie. Sy arms skiet uit en dit lyk of hy na die skaduwees om hom trek, binne hul toevou … en dan verdwyn, voordat hy die grond tref.
Alicia soek in die donkerte vir hom, gereed om hom te volg die oomblik wat sy hom sien, maar daar is niks nie ... nie eers die geluid van voetstappe nie. Sy voel jammer vir hom en die pyn wat hy vanaand vir haar deurgemaak het.
Sy vou haar arms om haarself en voel skielik meer alleen as waarvoor sy gereed is en wens desperaat dat hy nie weg is nie. Sy moes sê sy is jammer … sy wil dankie sê en sy wil hom regtig weer slaan, omdat hy haar nie laat weet het hy is gewond nie. Waarheen is hy op pad? Wat doen vampiere wanneer hulle seergekry het?
Hy wou hê sy moet bly en doen wat Michael gevra het. Sy het met 'n sug besluit om vir 'n slag gehoorsaam te wees ... maar sy doen dit nie vir Michael nie.
Alicia draai weg van die balkonrand af, gaan terug na haar kamer en gaan sit op die bed. Sy staar vir 'n paar oomblikke na die foon en wonder wat sy moet doen as dit lui. Moet sy dit self antwoord? Wat as dit nie Michael is nie? Wat as dit iemand soos Warren of Quinn is wat vir Michael bel, en sy antwoord die telefoon?
Damon is reg … sy het hulle albei genoeg geskuld om ten minste tot die oggend te wag, voordat sy enige besluite neem of iets doen wat sy nie veronderstel is om te doen nie. Sy onthou Michael se stem, toe hy vir Damon gesê het om haar huis toe te neem. Niemand wou haar vanaand daar gehad het nie, behalwe miskien Damon … nog een ding waarvoor sy vir Damon kan bedank.
Sy wil hê dat die tyd vinniger moet verbygaan, staan op en trek 'n dun naghempie aan. Sy trek die dekens op die bed terug, gaan lê en probeer slaap. Dit het gou te warm geword, al het sy die balkondeure oopgelos om die koel briesie in te laat. Sy het amper 'n uur lank rondgerol en uiteindelik 'n hand gelig om die sweet op haar voorkop weg te vee.
Haar vel voel warmer as wat dit moet wees, so sy gooi die komberse af in 'n poging om haarself af te koel. Sy raak gefrustreerd en bal die oortreksels op, totdat dit soos 'n lang lyfkussing is, rol op haar sy, omhels dit en gooi een been daaroor. Sy begin teen die kombers wriemel, hou van die gevoel daarvan tussen haar dye en druk dit nog stywer.
Alicia se oë bars oop, toe sy skielik die simptome herken van waardeur sy gaan. Sy het daarvan gelees en gesien hoe een van haar maats by die skool dit oorkom.
"Nee ..." fluister sy en voel hoe vrees deur haar sny by die blote gedagte. "Moet my asseblief nie nou op hitte laat gaan nie."
*****
Damon hardloop in die skaduwees deur die stad, op pad na die donkerste krotbuurte, op soek na iets of iemand wat doodgemaak moes word. Hy probeer om Alicia uit sy kop te keer, maar dit lyk asof elke minuut wat hy naby haar spandeer, sy dieper onder sy vel inkruip. Die vreemdste deel is … hy hou van haar.
Hy het sy lewe daarop gebou om nie om te gee vir enigiets … of enigiemand nie. Hy is ook trots dat hy dit 'n reël gemaak het om te vat wat hy wil hê. Hy wil haar hê en sy moet ophou om die duiwel so te verlei. Toe hy van die balkon af geval het, het hy gebid dat sy slim genoeg is om hom nie te volg nie. Gelukkig het die meisie bietjie selfbehoud gehad.
Hy het uiteindelik sy teiken bereik: 'n vervalle gebied van Los Angeles. Damon hou by die donker rand van die sypaadjie en grynslag toe die polisiemotors verbyry en almal verdwyn. Sodra die polisie buite sig is, sal die skuim van die aarde terugkom uit hul wegkruipplekke en dis weer besigheid soos altyd.
Damon snerp na twee skraps geklede vroue en hou aan loop toe hulle hom met hul lywe probeer lok. Miskien sou hy 'n paar weke terug dit dalk vaagweg oorweeg, maar nou ... hy wil niks met die teenoorgestelde geslag te doen hê nie. Die gedagte om aan een van hulle te drink, laat hom effens siek voel.
Damon stap om ‘n draai en merk twee skurke op wat albei na sy kant toe kyk terwyl hy naderkom. Nou, dis meer waarvoor hy lus is.
"Hoezit?" vra een van hulle in 'n diep stem. Hy het sy hande diep in sy jassakke en verwag om dwelms te verkoop. Toe hy 'n blik op die man se wilde oë kry, besluit hy om dit te laat vaar, omdat hierdie ou reeds sy dwelms iewers anders gekry het.
Damon antwoord nie en bly loop. Hy weet wat kom en sien daarna uit. Hierdie twee ouens met hul bultende spiere, is seker konings in hierdie buurt. Hy kan die ou bloed aan hul klere ruik en die geskende kneukels sien wat boelies altyd dra. Jip, hulle is seker legendes binne hul eie gedagtes.
"Haai," skree die tweede een, "My vriend het jou 'n vraag gevra."
"En my stilte moes hom gesê het dat ek nie in die bui is nie," waarsku Damon en draai sy kop om na hulle te kyk. Hy gee 'n bose glimlag, sy slagtande blink in die dowwe gloed van die straatlamp, en hulle sien die rooi irisse van sy oë. “'n Aandete-afspraak met julle twee klink egter goed.”
Damon beweeg vinnig, gryp die eerste een en dreineer hom in minder as 'n minuut droog. Hy sweet van die pyn toe nog koeëls vinniger begin uitstoot en met hoorbare metaalgeluide op die grond beland. Hy kantel sy kop agteroor en lag asemloos, voordat hy die dooie man by sy voete laat val.
Die klank van die tweede man wat weghardloop trek sy aandag. Damon hardloop agter hom aan en trek weer die skaduwees nader om sy agtervolging te verdoesel. Pyn en adrenalien maak hom nog vinniger.