Hoofstuk 1Envy woel in haar slaapkamer rond en pak van haar goed in haar swart leertas. Sy stop en gluur na haar broer, toe sy agterkom hy pak haar goed uit elke keer as sy haar rug draai om meer te kry. Hy blaas al in haar nek vandat sy by die huis gekom het en sy het baie gefrustreerd met hom begin raak.
“Hou op,” hap Envy, terwyl sy 'n handvol klere by hom wegruk en dit terug in die tas gooi. Sy gooi haar lang rooi hare oor haar skouer en gluur hom waarskuwend aan.
“Uittrek? Jy ken hom wat ... 'n week? Is jy seker dis wat jy wil doen?” Chad herhaal dit soos 'n mantra.
"Die antwoord is steeds dieselfde, Chad," lig Envy hom in 'n bestendige stem in, en wonder hoeveel keer sy dit sal moet sê, voordat hy haar werklik hoor. Sy kyk hom reguit in die oë, terwyl sy die woorde baie stadig sê: "Ek wil by Devon intrek, en dis presies wat ek gaan doen."
"Hoe kan jy seker wees dat hy oor 'n week of maand van nou af nie 'n ander meisie sal kry en jou in die pad gaan steek nie?" pleit Chad desperaat.
“Hy sal nie.” Sy hou aan pak en probeer die knaende gevoel dat sy haar broer verlaat, keer. Hy is 'n volwasse man, vervlaks, en 'n polisieman daarby.
“Jy weet dit nie vir seker nie. Ek bedoel, hy dans elke aand halfkaal in daardie klub en jy sal agter die kroeg staan en drankies aan perverse idiote bedien,” roep Chad uit, gereed om sy hare te begin uittrek. Wat hy eintlik wil doen, is om op haar te skree omdat sy betrokke geraak het by iets so gevaarlik … met iemand so gevaarlik.
Envy hou op pak en kyk na haar enigste broer vir wie sy baie lief is, maar gereed is om te verwurg. “Een, ek weet verseker. Twee, hy is dalk halfkaal, maar hy lyk sexy so. Drie, ek sal saam met hom in die hok kan dans. En vier,” sy leun nader asof sy ’n vuil geheimpie deel, “jy kort ‘n goeie spyker.”
Chad kyk af na sy suster: "Ek kort nie ‘n spyker nie." Hy grom toe sy 'n wenkbrou lig.
"Ja, jy doen." Sy ruk 'n laai oop en gryp 'n handvol skrapse onderklere.
“Nee, ek doen nie.” Chad slaan die tas toe, voordat sy dit by – wat hy hoop is net 'n groot oornagsak – kan voeg.
"Ja, jy doen." Envy skud die onderklere in sy gesig asof sy 'n punt wil maak.
“Nee, ek doen nie.” Hy ruk hulle uit haar hand.
“Nee, jy doen nie.” Sy vernou haar oë.
"Ja, ek doen." Chad bly stil en slaan die vuis vol onderklere in die lug. "VERDOMP!"
Devon is in die sitkamer en leun teen die muur met sy enkels gekruis en sy hande in sy denimbroeksakke … en probeer om nie sy gat af te lag nie. Hulle stryery herinner hom aan sy verhouding met sy eie broers en susters.
Hy kan sien Chad gee regtig om vir Envy, en daarom sal hy nie tussen hulle kom nie. Chad doen wat hy die beste doen ... hy is ‘n ouboet vir ‘n vurige rooikop. Nee, hy sal hulle nie keer nie, maar hy sal goeie geld betaal om net te kyk.
Devon lag hardop en probeer dit met 'n hoes bedek. Iemand klop aan die deur en sy ysblou oë vernou. Hy wonder wie de hel Envy-hulle voor dagbreek sou besoek.
"Devon, kan jy dit vir my kry?" roep Chad uit.
“Sekerlik,” antwoord Devon en stoot van die muur af weg, voordat hy na die voordeur beweeg. Toe hy die deur oopmaak, kan hy nie anders as om te grynslag oor die verbaasde uitdrukking op Trevor se gesig nie. "Hallo Trevor, lanklaas gesien."
Soos belowe, het Trevor met Chad kom praat oor wat hy by die kerk gesien het. Die laaste ding wat hy verwag het, was dat Devon Santos die deur sou oopmaak. Nie in staat om sy reaksie te beheer nie, lig Trevor dadelik sy vuis op en tref die jaguar reg op die neus ... hard.
Devon struikel 'n paar treë terug en vee die bloed van sy neus af. Hy kyk daarna en weer na Trevor en wys sy tande. Voordat Trevor kan beweeg, takel Devon hom by die deur uit en die voortuin in.
Klere skeur en val af toe hulle in hul dierlike vorms verander. Devon sirkel om die Kodiak-beer en bespring hom met 'n harde jaguar-grom. Trevor brul en staan op sy agterpote terwyl hy na die jaguar op sy rug probeer gryp.
Chad en Envy het Devon se brul gehoor en deur die huis na die voordeur gehardloop. Hulle verstar toe hulle Devon sien baklei met 'n groot beer reg in hul voortuin. Die polisieman is dadelik dankbaar dat hulle nie binne kykafstand van enige bure woon nie.
Chad skakel psigies al sy emosies af. Dis iets wat in hom klik wat hom heeltemal koel en kalm maak ... selfs in die middel van 'n skietgeveg. Chad reik na die holster op sy regterheup, en haal sy pistool uit. Hy skiet dit een keer in die lug om hul aandag te probeer trek. Hy frons toe hulle nie eers terugdeins nie, en kry ‘n vuishou op sy linkerarm.
"Laat iemand weet wanneer jy daardie ding gaan afvuur!" roep Envy uit, terwyl sy 'n hand oor haar regteroor hou en ineenkrimp oor die harde geluid.
Zachary stap met 'n groot sug van sy motor af weg en staar na die twee wat baklei. Weereens sal koeler koppe moet inspring. Hy glimlag vir sy eie grap, want niemand sal ooit die woord koel gebruik om hom te beskryf nie. Hy steek sy hand voor hom uit en skiet 'n hittegolf na die twee vervormers, wat hulle laat terugspring toe 'n enkele stroom vuur oor die erf jaag en hulle skei.
"As julle twee nie wil hê julle pelse moet brand nie, dan beter julle terug in mense verander en maak of julle 'n bietjie gesonde verstand het," waarsku Zachary, toe nog 'n vlam uit sy uitgestrekte hand begin groei. "Gaan julle twee soos volwassenes of kinders optree, want dit maak geen verdomde verskil aan my nie?" Hy glimlag koud soos die vlam groter word en leun na sy teikens.
Met die wete dat Zachary dit sal doen, verander Trevor terug en gluur oor die vlam na sy opponent. Net om te kyk na die man wat Envy by hom gesteel het, borrel sy bloeddruk so hoog dat hy moet fokus net om sy menslike vorm te behou.
Devon verander terug, maar hou sy gevegshouding. Hy vertrou nie Trevor so ver as wat hy hom kan gooi nie. Sy aandag is 'n oomblik afgelei toe hy Chad se harde "Goeie Here!" hoor en vinnig na die broer en suster kyk. Toe Devon sien hoe Envy grootoog na Trevor staar … wat nou kaal is, grom hy diep sodat haar aandag terugkom waar dit hoort … op hom.
Envy vryf oor haar slape noudat albei mans kaal is, gelukkig met net geringe wonde. Devon het haar gewys hoe vinnig vervormers kan genees, so sy weet niks is so erg soos dit lyk nie. Haar blik beweeg na Trevor, steeds geskok dat sy so lank met 'n beer uitgegaan het en dit nie eers geweet het nie.
Trevor glimlag en geniet die feit dat Devon se gegrom die geluid van pure jaloesie is … dis die jaguar se verdiende loon.
Chad knip sy oë. Gewoonlik is hy die rustige een in moeilike situasies. Hy haal diep asem en stoot homself weg van die deur om regop te staan. “Dis my huis, so ons speel volgens my reëls. Envy bly hier by my, en almal wat nie mense is nie…trap!” Hy probeer om die deur toe te maak, maar Envy stop hom.
“Nie sonder my maat nie,” grom Devon terwyl hy probeer om die eggo-effek af te skud. Genade, wie kon raai Trevor is so sterk? Die wete maak hom ongemaklik.
Envy frons oor die petalje en draai nuuskierige oë na Zachary. Dit lyk of hy en Trevor broers kan wees, hulle gelaatskleur is so eenders. Die enigste werklike verskil is dat Zachary kort hare het en 'n bietjie langer is. "Goed, ek weet wat hulle is ... maar wat is jy?"
Zachary buig elegant, "Jy kan my maar 'n bewaker noem," glimlag hy toe die vlamme doodgaan. "'n Bewaker van beide mense en paranormale wesens," hy staan regop en kyk na Trevor. “Het jy haar niks vertel nie?”
"Nee, hy het nie," Envy gee vir Trevor 'n welverdiende vuil kyk en rig dan haar aandag weer terup op Zachary. “Bewaker? Wat presies beteken dit? En is jy en Trevor broers?” Sy kan nie anders as om te vra nie.
"Dit beteken dat ons beide kante van mekaar beskerm," antwoord Trevor en voeg by, "En nee, ek het nie enige familie nie.”
“O, nou is jy vol inligting,” mompel Envy.
“Ek het jou probeer sê,” herinner Trevor haar, terwyl hy die broek aantrek wat Zachary sopas vir hom gegooi het. “Dis nie my skuld dat jy nie geluister het nie.”
Envy se lippe skei om hom uit te snou, maar sy stop … skuldig onthou sy die laaste aand wat sy en Trevor gepraat het. Hy het vir haar gesê hy het iets met die CIA te doen, maar sy het hom nie geglo nie. Sy het hom selfs met ‘n skokstok beetgekry, omdat hy gedink het sy is dom genoeg om vir so 'n simpel leuen te val. Maar tog, hoe het hy verwag dat sy hom sou glo wanneer hy uitlokkend met ander vrouens gedans het?
Die keersy is ... hy het vir haar gesê dit is deel van sy werk. Envy frons oor die hoofpyn wat besig is om te vorm en besluit dat Trevor 'n groter idioot is as wat sy oorspronklik gedink het, omdat hy haar hieraan laat dink.
Chad kyk na die jaguar voordat hy weer ingaan. Hy kom 'n paar sekondes later uit met 'n denimbroek en gooi dit na Devon.
"Ons het nie jou hulp nodig nie," sê Devon vir Trevor terwyl hy die broek se rits toetrek en na Envy stap om 'n besitlike arm om haar middel te vou.
“O ja? Ek het jou suster gered terwyl jy besig was om my meisie te steel,” kap Trevor terug voordat hy na Envy terugkyk.
Envy kyk op na Trevor se silwerblou oë. Sy kan steeds die seer in hulle sien en dit laat haar hart ongemaklik klem. Sy het hom regtig glad nie gehaat nie. Trouens, sy was steeds lief vir Trevor ... net nie so lief soos vir Devon nie. Haar lippe skei om te probeer verduidelik, maar Devon sny haar af.
“Hoekom het jy hierheen gekom? Het jy ons gevolg?” vra Devon en hou nie van die feit dat Trevor aanhou om Envy onder die soeklig te sit nie. Sy het haar keuse gemaak en Trevor moet met daardie feit vrede vind, voordat hy seerkry.
“Eintlik het hy hierheen gekom om my te sien,” sê Chad so kalm as moontlik. Hy draai na sy suster, neem haar hand in syne en trek liggies, terwyl hy oor haar skouer na Devon kyk. "As jy nie omgee nie, wil ek 'n bietjie privaatheid hê."
Die oomblik wat Devon haar laat gaan, trek Chad haar by die deur in en maak dit toe. Hy moet homself eintlik keer om die grendel te sluit. Buitendien, na wat hy sopas in die tuin gesien het, sou ‘n slot niks help nie.
“Is jy seker jy kan nie nog net een aand hier bly nie? Vir my eie gemoedsrus?” pleit hy, hoewel hy weet hy het al ‘n ruk gelede beheer oor sy gemoedsrus verloor.
Envy vou haar arms om haar broer en gee hom ‘n broodnodige drukkie, voor sy terugtree en na hom opkyk. “Ek kan nie. Jy het gesien wat vanaand by die kerk gebeur het. Almal het laat spaander, so Warren probeer om 'n vergadering eerste ding in die oggend te reël."
Sy kyk terug na die deur, toe 'n ander gedagte haar opval. “Boonop, is om by hulle te bly waarskynlik die veiligste plek om nou te wees. Ek sal jou bel en laat weet hoe laat om na die vergadering te kom, en of dit by Maan Dans of Nag Lig is. Ek wil hê jy moet my 'n guns doen. Bring Trevor en vlam-outjie na die vergadering toe, want as wat ek gehoor het waar is ... gaan ons al die hulp nodig hê wat ons kan kry.”
"Vampiere?" vra Chad, weer in polisiemodus, terwyl hy die agterkant van sy nek vryf waar die klein fyn haartjies besluit het om permanent regop te staan.
Envy knik, frons en skud dan haar kop, "Die vampiere ja, maar daar is 'n demoon op vrye voet en ..."
Chad steek sy hande uit en gryp haar aan die arms, “'n Demoon? Niemand het iets oor demone gesê nie!”
Envy asem in en knik, in die hoop dat wat sy gaan sê hom beter sal laat voel, “Ja, 'n demoon. Die goeie nuus is, ons het twee engele aan ons kant.” Sy gee hom ‘n sagte glimlag met die hoop dat hy nie flou word nie.
“Engele?” Chad laat haar gaan en leun teen die muur, "Goeie God."
“Presies,” knik Envy, terwyl sy kyk hoe hy sy vingers deur sy hare vryf asof hy die drang weerstaan om dit uit te pluk. “Hanteer jy vir Trevor. Kan jy dit vir my doen? Bring hom en Zachary môre na die vergadering toe.” Sy byt haar onderlip en wil nie nog drama veroorsaak nie. “En in ruil daarvoor sal ek nie vanaand my goed vat nie … as dit jou beter sal laat voel.”